Dit was darem nie 'n blinde ruil nie - soos julle Patrol-ouens weet, het ek Rust de Winter saam julle gedoen (daar is iewers in een of ander tydskrif 'n klein brokkie oor die ervaring) met die einste Lobo. Daai naweek het ek myself in 'n liefde in gebestuur oor klippe, in riviere af en teen berge op. Lobo KAN!
Maar dit het eintlik nog voor dit al begin. Ek is 'n 4x4-joernalis sonder 'n 4x4. Dit het my dwars in die krop gesteek dat van die 7 mense wat op ons redaksie is slegs die baas met 'n Hilux rondry en niemand anders 'n 4x4 het nie (die webjoernalis se Fiat Panda tel nie). As ons stories moet doen, kry ons toetskarre. Maar terug by die storie.
Ek is al sedert laas jaar opsoek na 'n 4x4 en het so in 'n grap vir oom Mac gesê toe ek hoor hy wil Lobo ruil, dat ek en hy sommer moet ruil - die Camry se kilo's is laag en sy enjin is goed en ten spyte van 'n merkie hier en daar is alles nog klop disselboom met hom.
Die Oompie was bietjie skrikkerig om so 'n ou voertuig te ruil vir die Camry, maar na Rust de Winter was my mind opgemaak.
so kom een ding toe tot die volgende en toe die oompie vir ander besigheid in die Kaap is, ontmoet ek hom, hy ontmoet die Camry en stem in met die ruil. Dit was byna 4 maande gelede.
Maar intussen moes ek nog staan en trou ook, so om te reel vir die twee karre om te ruil sou nie sommer so gebeur nie. Eers het ek gekyk om hulle op die trein te gooi, maar dis te duur, en toe wou ek iemand anders laat op en af ry - iemand wat in elk geval Gauteng toe en terug moes gaan, maar hy wou toe he ek moet al die petrol betaal, so dis ook 'n no-go (trou is duur en eks 'n joernalis!)
so kom die geleentheid toe vir my om 'n storie in die noorde te gaan doen, en ek klim in die Camry en ry op, ruil vir Lobo en vat die pad.
Oom Mac was eers bietjie skugter vir die Toyota, maar ek reken hy is nou heel in sy noppies (julle het die nie by my gehoor nie

So vat ek toe die pad met Lobo, die 1981 Datsun Safari met baie kilometers op die klok, 'n EFI wat hom laat brul soos 'n jong leeu en hope krag.
Oor wat ek en Lobo alles aangevang het vir 'n week op die pad sal ek later eers meer details gee, of dalk weer ietsie in daai tydskrif publiseer, maar ek moet darem net die volgende deel:
Ek het op Zeerust gelukkig by 'n man uitgekom wat my gehelp het om die pulley op die crankshaft weer vas te sit toe dié besluit om af te klim. Moontlik was die bout wat hom vasgehou het nie meer 100% nie (ouderdom) maar die bout was weg en Wimpie van der Merwe (as jy ooit moeilikheid daar kry, soek hom op) het 'n ander een gekry (Nissan hou mos nie van standaard boute nie!) en hom vasgedraai, maar sonder 'n keyway. Op Zeerust is daar nie baie Nissan's wat rondstaan en stof opgaar nie.
Dieselfde moeilikheid tref my toe weer net buite Douglas. Gelukkig kom die regte oom, Pieter Visser, toe daar verby, sleep my na sy werkswinkel toe en na 'n lang gesoek en gesukkel het ek toe by 'n ingenieur uitgekom wat 'n nuwe passtuk gemaak het om in die pulley in te pas, want die was toe uitgevreet van draai sonder 'n keyway. Hy het ook 'n nuwe keyway gemaak en 10:00 die aand sit ek toe onder Lobo, maak die goeters was en draai dit laat hy sing (daai ding sit nou darem maar ordentlik styf vas) maar dit is ook weer 'n tydelike oplossing - ek sal 'n nuwe pulley moet kry.


Maar terug by die huis, meer as 3000 km agter die blad, en ek is gelukkiger as ooit met my nuwe wiele (nuwe is 'n relatiewe term, want dit is die eerste ding wat ek wil opsit - nuwe bande!)
So nou is ek 'n amptelike Patrol (Safari) eienaar hier op die forum!
Dankie Oom Mac.